Select Page

Kontak net vir Swannie! Hy sal weet wie, wat, waar – en indien nie, sal hy uitvind!


Niks was ooit te veel gevra, te moeilik om te doen of geheel en al buite bereik nie. As niemand geweet het wat om te doen nie, was dit net ‘n goeie tyd om uit te vind. Alles was eenvoudig ‘n uitdaging wat gelei het tot nuwe ervarings.

Die lewe is kort, en ons het oor die jare elkeen in ons eie rigting verdwyn met die verloop daarvan, maar dit wat ons gedeel het as vriende aan die Weskus, was die fondamente waarop ons lewens gevestig was.

Dit het alles begin voordat die nuwerwetse internet op die toneel verskyn het. Swannie was proefleser, raadgewer en poskantoor met faks en foon. Daar is renmotors gebou, gejaag en weer oorgebou, en niks en niemand het ‘n Swannie-poets vrygespring nie!

WIEL, Chequered Flag en later Rallystar is deurlopend van inligting voorsien, en daar was nie ‘n gimkana of tydrenmotor aan die Weskus wat nie positief deur Swannie beïnvloed is nie. Engels is net vir selfverdediging aangedurf!

Swannie se hande het vir niks krom getrek nie, en hy het gehelp waar hy ook al kon. Talentvol as renjaer op ovaalbane, het sy goue hart vriende gemaak met almal wat met hom in aanraking gekom het.

Hy was die een persoon vir wie niemand ooit kwaad kon wees nie – en hy het dit subtiel uitgebuit as briljante kommentator, veral by die Club Mykonos Langebaan Gimkana, waar hy elkeen kon komplimenteer én berispe, met daardie kenmerkende laggie agterna.

Pieter André Swanepoel, of sommer net “Swannie” – jy het diep spore getrap! Nie in die sand waar dit later sal verdwyn nie, maar in die harte van dié wat die voorreg gehad het om jou vriend of familie te noem.

Dit was voorwaar ‘n opregte voorreg!

NS: Namens die lede van die Witzenberg Motorklub, opregte simpatie aan familie en vriende.

Geplaas deur: Patrick Vermaak

MSA publiseer mediavrystellings van ’n verskeidenheid bronne op ons webwerf as ’n diens aan die sport. Dit is prakties onmoontlik om elke vrystelling wat gepubliseer word, na te gaan of goed te keur. Sommige nuusberigte en artikels word deur korrespondente geskryf en verteenwoordig nie noodwendig MSA se siening nie.